WIE IS ONS
DIE GESKIEDENIS, GROEI EN ROEPING VAN ONS GEMEENTE
Die NG Gemeente Port Shepstone is vir meer as ‘n eeu ‘n baken in die kerklike landskap in KwaZulu Natal. Die gemeente het in 1924 tot stand gekom te midde van uiteenlopende groepe setlaars (sommige van so ver as Noorweë) wat van die 1880’s hierheen gekom het om ‘n heenkome in die landbou te vind. Deur vaste geloof in God en ‘n onwrikbare verbintenis tot die gemeente se roeping is vele uitdagings die afgelope eeu te bowe gekom en het die gemeente ontwikkel tot ‘n dinamiese, geesvervulde gemeenskap wat in liefde na mekaar omsien en uitreik na diegene in geestelike en fisiese nood.
Die nederige geloofsgemeenskap van 1924 het gegroei en het in 1933 die eerste kerksaaltjie betrek. Die toestroming van Afrikaanssprekendes na die Suidkus het bygedra tot die groei van die gemeente en op 31 Oktober 1983 is die huidige kerkgebou ingewy. So het die Here vir Hom ‘n gemeente bymekaargemaak in dié pragtige deel van ons land om die Evangelie te verkondig en die hande van voete van Jesus Christus te wees.
Die gemeente onder leiding van ds Jasper van der Westhuizen bedien vandag die geloofsgemeenskap van Port Sheptone sowel as die satellietgemeente van Hibberdene. Deur eredienste en E-bediening word die woord verkondig terwyl bybelstudiegeleenthede, jeug-, vroue- en bejaardebediening en die diens van barmhartigheid belangrike boustene is in die geestelike groei van die gemeente.